Vrou vas toe sy tik van R7,5m. by koerier oplaai

NEWS24, ARTIKEL DEUR MALHERBE NIENABER

KAAPSTAD – ‘n Vrou (32) verskyn vandag in die Kaapstadlanddroshof nadat sy betrap is toe sy ‘n pakkie wat R7,5 miljoen se tik bevat het, wou gaan afhaal. Die poisie se direktoraat vir prioriteitsmisdaad-ondersoeke (die Valke) en misdaadintelligensie het Maandag op inligting oor ‘n verdagte pakkie by ‘n afleweringsmaatskappy in Montague Gardens gereageer. Die vrou is om 08:45 by die depot van Time Freight in hegtenis geneem toe sy die pakkie van 42kg tik (metamfetamien) wou gaan afhaal, het kol. Tembinkosie Kinana, ‘n provinsiale polisiewoordvoerder, gesê. Sy sal in die hof verskyn op aanklagte van handel in dwelms. Kinana kon nie bevestig wat die vrou se woongebied of nasionaliteit is nie. Hy kon ook nie bevestig waar die pakkie vandaan kom of wie die polisie vermoed dit gestuur het nie. Haar naam kan eers bekend gemaak word wanneer sy in die verskyn het.

– Die voorval kom ‘n week nadat ‘n vrou (42) van Soweto met 2kg tik in haar besit naby Beaufort-Wes betrap is. Ntombentsha Nxodo het glo geryloop na Kaapstad toe sy verlede Dinsdag met Mandrax en tik met ‘n geskatte waarde van R911300 by ‘n padblokkade betrap is.

– In dieselfde week is ‘n 13-jarige seun en 42-jarige man in Lentegeur aangekeer met 4kg tik in hul besit.

– Daar is ook aan die begin van die maand op miljoene rande se dwelms in Maitland beslag gelê. ‘n Man (52) is tydens ‘n klopjag in hegtenis geneem toe die polisie op 63 sakke Mandraxpoeier en 18 sakke tik afgekom het. Die polisie het ten tyde van die voorval gesê die dwelms het ‘n geskatte straatwaarde van R9 miljoen.

– Verlede maand is twee mans by ‘n tolplaza in Mpumalanga in hegtenis geneem toe Ecstacy tablette ter waarde van R85 miljoen by hulle gekry is. Hulle was onderweg na Durban en is saam met nog drie ander mense in hegtenis geneem vir die besit van chemiese stowwe waarmee dwelms vervaardig kan word.

– Die Burger het in Julie ook berig oor 65kg tik ter waarde van R19.5 miljoen waarop by die O. R. Tambo lughawe in Johannesburg beslag gelê is.

– Die vorige maand is op tik van sowat R4,5 miljoen beslag gelê toe ‘n minibus op die N1 tussen Beaufort-Wes en Leeu-Gamka deursoek is. ‘n Vrou (41) van Wynberg is ten tyde van die voorval in hegtenis geneem met 10kg tik in ‘n tas wat aan haar behoort het.

– In Maart is ook op tik ter waarde van R1,5 miljoen by ‘n taxi staanplek in George beslag gelê. Niemand is egter in hegtenis geneem nadat die polisie op sowat 5kg tik afgekom het nie.

To Top