Saak van seksuele aanranding teruggetrek

DIE BURGER, ARTIKEL DEUR JANA BREYTENBACK

Kaapstad – Die klaer in die saak waarin ‘n matrikulant van Wynberg Boys’ High School in Kaapstad van seksuele aanranding aangekla word, het besluit om nie die saak voort te sit nie.

Die matrikulant het gister in die landdroshof in Wynberg verskyn, waar die aanklag van seksuele aanranding teen hom laat vaar is.

Die staat het aangevoer dat hy aan ‘n medeleerling se geslagsdeel gevat het terwyl die seun geslaap het. Dit het na bewering op die aand van 17 April in die skool se koshuis gebeur. Die beskuldigde en die slagoffer het albei in die koshuis gewoon.

Die beskludigde is eers op 23 Mei in hegtenis geneem en het dieselfde dag in die hof verskyn. Hy is 18 jaar oud, maar weens die aard van die misdaad kon sy naam nie genoem word voordat hy op die aanklag gepleit het nie.

Die beskuldigde is by sy eerste verskyning op borgtog van R500 vrygelaat.

Luidens ‘n beëdigde verklaring van die beskuldigde was hy tot onlangs ‘n inwoner van die koshuis, maar woon hy nou by sy ma.

Die staat het aan die begin van Julie, tydens die seun se vorige verskyning, gesê daar moes nog met die klaer oorleg gepleeg word. Dit is intussen gedoen en die klaer het aangedui dat hy nie met die saak wil voortgaan nie.

Landdros Momina Ismail het die staat se versoek om die aanklag te laat vaar toegestaan en die matrikulant laat gaan.

Keith Gess, die leerling se regsverteenwoordiger, het gesê hy is baie bly die aanklag is teruggetrek.

To Top