‘Betasting’ – saak teen 18-jarige sloer

DIE BURGER, ARTIKEL DEUR JANA BREYTENBACK

Kaapstad – Die slagoffer in die saak waarin ‘n matrikulant van Wynberg Boys’ High School van seksuele aanranding aangekla word, het steeds nie behoorlik met die staat gekonsulteer nie. Daarbenewens is hy tans oorsee op skoolvakansie en kan nie met die polisie vergader om ‘n konsultasie af te handel nie.

Dit het Vrydag in die landdroshof in Wynberg aan die lig gekom toe die matrikulant vir die tweede keer verskyn het.

Die staat voer aan hy het aan ‘n medeleerling se geslagsdeel gevat terwyl die seun geslaap het.

Die beweerde voorval het glo op die aand van 17 April in die skool se koshuis gebeur. Die beskuldigde en die slagoffer het albei in die koshuis gewoon.

Die beskuldigde is eers op 23 Mei in hegtenis geneem en het dieselfde dag in die hof verskyn.

Hy is 18 jaar oud, maar weens die aard van die misdaad mag sy naam eers genoem word nadat hy gepleit het.

Die beskuldigde het by sy eerste verskyning ‘n aansoek om borgtog ingedien en is op borgtog van R500 vrygelaat.

Luidens die beskuldigde se beëdigde verklaring was hy tot onlangs ‘n inwonder van die koshuis, maar hy woon nou by sy ma.

Die beskludigde het aangedui dat hy skuld sal ontken op die aanklag.

Die staat het egter Vrydag gesê die ondersoek is byna drie maande na die voorval steeds nie afgehandel nie.

Daar is nog nie met die klaer gekonsulteer nie en die konsultasie sal eers in die nuwe skooltermyn kan geskied.

Keith Gess, die beskuldigde se regsverteenwoordiger, het gesê dit is verregaande dat die ondersoek nog nie afgehandel is nie.

“Hierdie is nie ‘n goeie refleksie op die staat nie. Dit bewys die ondersoekbeampte is nalatig omdat hy nog nie met die klaer gekonsulteer het nie.”

Gess het gesê sy kliënt is besig om sy matriekeksamens te skryf en die saak veroorsaak trauma vir hom.

“Ons het vertoë aan die senior staatsaanklaer gerig om die saak te onttrek, maar daar moet eers met die klaer gekonsulteer word.”

Landdros Momina Ismail het die saak tot 25 Julie uitgestel. Die beskuldigde se borgtog is verleng.

To Top