Seksklag teen onnie laat vaar

DIE BURGER, ARTIKEL DEUR MAYGENE DE WEE

Kaapstad – ‘n Aanklag van verkragting teen ‘n wetenskaponderwyser van ‘n bekende meisieskool in die Moederstad se suidelike voorsted, is laat vaar.

In ‘n verklaring wat die skool aan Die Burger gestuur het, het die hoof geskryf dat die beheerstaatsaanklaer van die landdroshof in Wynberg besluit het om die aanklag teen die 52-jarige man terug te trek.

Volgens die verklaring was daar nie genoeg bewyse om met die vervolging voort te gaan nie.

Eric Ntabazalila, Wes-Kaapse woordvoerder van die kantoor van die direkteur van openbare vervolging, het bevestig dat die saak laat vaar is. Hy het bygevoeg dat daar met die 17-jarige klaer vergader is toe die besluit geneem is.

Dit het intussen ook aan die lig gekom dat die leerling se prokureurs die skool ingelig het dat sy nie na die skool gaan terugkeer nie.

Die hoof het in die verklaring gesê die skool het ondanks die besluit van die staansaanklaer met sy eie interne ondersoek voortgegaan. “Die skool is voorsien van die leerling se verklaring aan die polisie, wat insluit die tye en datums van die beweerde verkragting en seksuele aanrandings.”

Volgens die hoof het ‘n onafhanklike persoon die ondersoek vir die skool gelei. Die voltooide verslag van die ondersoek is aan hom en die voorsitter van die skoolraad gestuur.

“Die verslag het getoon dat die bewyse wat in die skool se onderoek uitgekom het nie ooreenstem met die leerling se bewerings soos in haar verklaring aan die polisie nie. Gebaseeer op al die ingesamelde bewyse, wat klasroosters, indeling van onderwysers, kringtelevisiebeelde en onderhoude en verklarings van verskeie getuies insluit, is die enigste afleiding wat ons kon maak dat daar geen waarheid in die leerling se verklaring steek nie.”

Die hoof het ook gesê die bewerings word weerspreek deur onafhanklike, objektiewe getuies. “Die skool sal nie voortgaan met ‘n tugverhoor teen die onderwyser nie.”

* Die Burger het op 27 Mei berig dat ‘n onderwyser aan ‘n bekende meisieskool in Kaapstad se suidelike voorstede glo oor ‘n tydperk van twee jaar ‘n 17-jarige leerling van die skool herhaaldelik verkrag het. Die man is die vorige dag in hegtenis geneem toe hy homself aan die polisie oorgegee het. Hy het die volgende dag in die hof verskyn en is op borgtog van R2000 vrygelaat.

To Top