Vrou op lughawe vas oor dwelms

DIE BURGER, ARTIKEL DEUR SUZAAN POTGIETER

Kaapstad – ‘n Suid-Afrikaanse vrou is Dinsdag op die Kaapstad Internasionale Lughawe vir die besit van dwelms in hegtenis geneem.

Volgens kapt. FC van Wyk, ‘n provinsiale polisiewoordvoerder, is ‘n 44-jarige vrou in die internasionale vertreksaal met drie kompakte pakkies onder haar klere wat aan haar lyf vasgemaak was, gevang.

Daar word vermoed die inhoud van die pakkies is van die dwelm tik. Die dwelms het 1kg geweeg en het ‘n straatwaarde van ongeveer R225 000.

Die vrou sal in die hof verskyn sodra sy aangekla is.

Hierdie is die vyfde inhegtenisneming by die lughawe van mense wat dwelms by hulle gehad het. Vroeër die maand is vier verdagtes met kokaien ter waarde van ongeveer R4,3 miljoen wat in sjokolade houers versteek was in hegtenis geneem.

To Top