Twee vas oor perlemoen op oud WP speler se plaas

Kaapstad – Twee mans, onderskeidelik 26 en 35 jaar oud, wat Maandag met perlemoen op die plaas van Calla Scholtz, voormalige Westelike Provinsie-heelagter, betrap is, sal vandag in die landdroskantoor in Caledon verskyn.

Die polisie het Maandagaand op meer as 25000 perlemoene op Scholtz se plaas Klein Eike, buite Caledon, beslag gelê.

‘n Provinsiale polisiewoordvoerder, konst. Noloyiso Rwexana, het gister gesê die straatwaarde van die perlemoen is nog nie bepaal nie, al is die stukke getel.

Volgens Rwexana het die polisie ‘n wenk van die publiek ontvang oor moontlike misdadige bedrywighede op die plaas.

Die polisie het Maandagaand die perseel en die huis deursoek en toerusting soos gasbottels, droograkke, waaiers, sout en potte, wat gebruik word om perlemoen uit te droog, in die huis gekry.

Hulle het die perlemoen in een van die vertrekke gekry.

‘n Polisiebron het bevestig dat die plaas aan Scholtz behoort.

To Top