Skoolhoof onskuldig bevind op seksklagte

DIE BURGER

Verslaggewer – Carryn-Ann Nel

KAAPSTAD – ‘n Geskorste skoolhoof van ‘n primêre skool in Delft het gister as ‘n vry man uit die Parow-streekhof hier geloop waar hy tereggestaan het op aanklagte van onsedelike aanranding. “Dankie, Here, dankie, Vader,” het sy vrou en ander familie herhaaldelik gesê en sy regsverteenwoordigers buite die hof omhels, kort nadat mnr. Christian Abrahams van The Hague Primêre Skool gister op alle aanklagte ontslaan is. Abrahams, ‘n pa van drie, staan sedert Junie verlede jaar tereg op drie aanklagte van die onsedelik aanranding van drie leerders en ook drie aanklagte van besit van kinderpornografie. “Ek voel baie verlig dat die hofsaak verby is. Ek wil nou net voortgaan met my lewe,” het Abrahams kort na die uitspraak aan die media gesê. Streeklanddros Hennie le Roux het ook gister uitspraak gelewer in ‘n verhoor binne ‘n verhoor, waarin die ondersoekbeampte, sers. Izak Gordon, getuienis wou lewer oor onder meer elektriese toerusting waarop die polisie in Abrahams se huis beslag gelê het. In sy uitspraak in die binne-verhoor het Le Roux bevind die lasbrief wat deur ‘n landdros van Kuilsrivier onderteken is, was ongeldig en is verkeerd uitgereik. Die getuienis wat Gordon in die verhoor wou gebruik, kon dus nie toegelaat word nie. Die artikel wat vir die lasbrief gebruik is, was die van ‘n behuisingswet en nie die rolprent-en-publikasiewet nie. Na ‘n kort verdaging vir tee het adv. Johan Engelbrecht SC, vir Abrahams, om ontslag gevra. Hy het aan die hof gesê daar is groot teenstrydighede in die getuies se getuienis wat die geloofwaardigheid van een van die klaers beinvloed. “(Klaer 1) weerspreek nie net (klaer 2) nie, maar ook haarself. Hul teenstrydighede is van so ‘n aard dat dit met regverdigheid gesê kan word dat daar geen getuienis is nie,” het Engelbrecht gesê. Mnr. Gary Titus, staatsaanklaer, het gesê die gebeure het reeds ‘n tyd gelede met die klaers gebeur. Hy het ook benadruk dat een van die getuies “stadig” is en as 14-jarige in gr. 5 is. In sy uitspraak in die aangeleentheid het Le Roux ontslag op twee van die klate van onsedelike aanranding gegee. “Ek dink nie dit verg ‘n wetenskaplike om te sien dat hier probleme is met die staat se saak nie.” Hy het saamgestem met die verdediging dat daar “wesenlike weersprekings” is in twee van die klaers se getuienis. Op aanklag drie, waarop Abrahams nog tereggestaan het, het Titus die meisie se getuienis weer aan die hof voorgelê dat sy skuins oor Abrahams se skoot gesit het toe hy glo oor haar mini-rokkie aan haar vagina gevat het. Die meisie het glo opgespring en weggegaan sonder om enigiets te sê. Le Roux het gesê dat daar in ‘n objektiewe lig na die saak gekyk moet word. “Haar getuienis staan onbetwis voor die hof. Sy het die hof beindruk met haar selfvertroue op so ‘n jong ouderdom. Volgens haar getuienis is daar geen woorde vooraf aan u (Abrahams se) kant af nie, geen gedrag van opsetlikheid (kan getoon word) nie.” “Dit is volbring, u is nie meer ‘n beskuldigde nie.”

To Top