Staggie se seun vir vyfde keer aangekeer

DIE BURGER, ARTIKEL DEUR JANA BREYTENBACK

Kaapstad – Abdul (Dullah) Boonzaaier (26), seun van die voormalige leier van die Hard Livings-bende, Rashied Staggie, is vir ‘n vyfde keer in hegtenis geneem.

Boonzaaier en sy medebeskuldigde, Dale America, het gister in die Kaapstadlanddroshof op aanklag van die onwettige besit van dwelms verskyn.

Die twee is op 20 Augustus omstreeks 04:00 in Woodstock in hegtenis geneem.

Lede van Operasie Combat het Boonzaaier se swart Golf deursoek en glo twee pakkies tik gevind.

Die saak is gister tot 11 September uitgestel wanneer die twee beskuldigdes ‘n aansoek om borgtog sal indien. Hulle word in die Pollsmoor gevangenis aangehou.

Boonzaaier was ten tyde van sy jongste beweerde oortreding op borgtog van R50000.

Die Wes-Kaapse hooggeregshof het hom in Maart vanjaar op borgtog van die bedrag vrygelaat nadat hy ‘n dringende aansoek om borgtog ingedien het nadat die landdroshof borgtog geweier het.

Daar is tans drie sake in die Khaelitsha prioriteitshof hangende teen Boonzaaier. Die aanklagte in die drie sake is saamgevoeg en sluit in dwarsboming van die gereg, twee van die onwettige besit van dwelms en een onwettige besit van vuurwapens en ammunisie.

Bruce Hendricks, Boonzaaier se regsverteenwoordiger, het gesê wanneer die aansoek om borgtog in die jongste saak afgehandel is, sal dit ook na die prioriteitshof oorgeplaas word.

Boonzaaier het reeds ‘n boete van R1000 op aanklagte van die onwettige besit van dwelms betaal.

Die saak wat in die prioriteitshof aangehoor word, sal weer op 9 en 10 September voortgaan.

To Top