Taliep-saak vir twee maande uitgestel, Engelbrecht verseker hof dat hy Najwa se laaste advokaat is

Die Burger

Verslaggewer: Carryn-Ann Nel

KAAPSTAD – Een van die land se voorste strafregadvokate het gister sy gewig agter mev. Najwa Petersen ingegooi en die hof verseker dat hy Petersen se laaste regsverteenwoordiger sal wees.
“Die advokaat van haar keuse is ek. Dit het sy vanoggend duidelik gemaak,” het adv. Johan Engelbrecht SC, van Johannesburg, gister in ‘n stampvol hofsaal aan regter Siraj Desai gese.
Op sy beurt het Desai dit duidelik gestel dat hy geen verdere versoeke van mev. Petersen om van regsverteenwoordiging te verander, sal duld nie.
Engelbrecht is mev. Petersen se vierde advokaat sedert haar inhegtenisneming in Junie verlede jaar. Sy word van die moord op haar musieklegendeman, Taliep, aangekla.
Engelbrecht, ‘n gesiene in regskringe, verteenwoordig ook me. Cezanne Visser (30), ‘n voormalige Pretoriase advokaat. Hy het verlede jaar ook die skoolhoof van ‘n primere skool in Delft wat op ‘n klag van onsedelike aanranding onskuldig bevind is, verteenwoordig.
Adv. Klaus von Lieres und Wilkau SC het Dinsdag sy mandaat beeindig weens ‘n tekort aan geld.
Gister het Engelbrecht die regter die versekering gegee dat hy met mev. Petersen gekonsulteer het. “Sy wil ook klaarmaak met die saak.”
Volgens hom beplan mev. Petersen om tussen ses en agt getuies in haar verweer te laat getuig. Hy moet nog met die mense konsulteer.
“Ek gaan vra dat die saak tot Augustus uitgestel word.”
Hofgangers het op die stelling na hul asem gesnak.
Engelbrecht het gese dit is weens omstandighede en hy vra alle betrokke partye om verskoning.
Adv. Shareen Riley, vir die staat, het gese sy maak beswaar teen so ‘n lang uitstel. “Dit het nou al vir die beskuldigde ‘n patroon geword om (van regspan) te verander.”
Nadat die hof verdaag het vir die regter om te besin, het Desai aan Engelbrecht gevra: “Net een punt wat my pla: Gister het adv. Von Lieres aan ons gese hy onttrek weens ‘n tekort aan finansiele instruksies. Vandag laat die beskuldigde ‘n senior advokaat uit Johannesburg vlieg?”
Engelbrecht het hierop geantwoord dat daar eers laat Dinsdagmiddag “ordentlike” finansiele instruksies ontvang is. “Ek wil nie in detail hierop ingaan nie.”
Desai het gevra of daar ander redes as finansies is, waarop Engelbrecht gese^ het die redes is privilegie.
In sy bevinding oor die aansoek om uitsel het Desai gese “dit gebeur alte dikwels, en veroorsaak ontwrigting op ons hofrolle, en skep ernstige nadele vir die medebeskuldigdes, die families van die slagoffers en natuurlik, die strafregstelsel. Ek aanvaar die argument dat adv. Engelbrecht nie in ‘n posisie is om hom deeglik voor te berei in die drie oorblywende weke van die termyn nie. Om nie die uitstel toe te staan nie, plaas die beskuldigde se reg op ‘n regverdige verhoor in die gedrang.
“Aan die ander kant toets die beskuldigde – deur haar optrede – die hof se toegewings wat aan haar gemaak kan word tot die uiterste.
“Indien daar enige verandering in regsverteenwoordiging is wat die vloei van die hofsaak sal belemmer, sal die beskuldigde haarself moet verteenwoordig en die gevolge daarvan dra.”
Die saak is tot 28 Julie uitgestel.

To Top