Taxi-oorlog flo rede vir verskeie moorde

Die Burger

Verskeie mense is in die laaste paar dae in Kaapstad en die Boland doodgeskiet in wat lyk na ‘n taxi-oorlog tussen twee mededingende taxiverenigings.

Minstens vyf mense is nou al in die skietery dood.

In die jongste voorval is ‘n 26-jarige minibustaxibestuurder Donderdag buite Shoprite op Ceres doodgeskiet.

“Gerugte doen die ronde dat die voorval uit wraak was na die moord op ‘n lid van die Codeta-taxivereniging verlede Sondag in Nduli,” sê kapt. Lindikhaya Mkhontwana, ‘n woordvoerder van die Worcester-polisie, in ‘n mediaverklaring.

Volgens Mkhontwana het twee verdagtes glo die groep van die Cata taxivereniging genader en op hulle begin skiet. Die koeël het een persoon glo in die kop getref en hy is op die toneel dood, sê Mkhontwana.

Niemand is nog vir die moord in hegtenis geneem nie.

Besuthu Ndungane, Codeta se woordvoerder, het by navraag gesê hy weet nie van die skietvoorvalle nie en sal met die polisie daaroor praat.

Die Cata-taxivereniging kon nie vir kommentaar opgespoor word nie.

Die moord volg in dieselfde week dat Patrick Cosani (49), voorsitter van die Blackheath-Malibu-taxivereniging, en nog ‘n man, John Neethling, kort na mekaar in Blackheath doodgeskiet is. Cosani is Dinsdag om 06:00 buite sy huis doodgeskiet, terwyl Neethling later oorkant ‘n vulstasie in Buttskopweg geskiet is.

Woensdag is ‘n 35-jarige man by die taxistaanplek op ‘n parkeerterrein oorkant die Grand Central-winkelsentrum in Eerste-rivier doodgeskiet. ‘n 24-jarige man is in die voorval gewond.

Op dieselfde dag is ‘n 32-jarige man in ‘n ander skietvoorval op ‘n parkeerterrein by die Shoprite-winkelsentrum in Kuilsrivier doodgeskiet.

Kapt. FC van Wyk, woordvoerder van die Wes-Kaapse polisie, het by navraag die moorde bevestig en gesê dit word ondersoek. Van Wyk kon nie bevestig of die voorvalle verwant is nie.

Bonginkosi Madikizela, Wes Kaapse LUR vir vervoer en openbare werke, het Dinsdag Cosani se skietdood sterk veroordeel.

Volgens Madikizela loop die Blackheath-Malibu-gebied deur onder onwettige taxi-operateurs wat glo roetes oorneem.

To Top