Vyf vas nadat taxibestuurder (26) in Ceres vermoor is

Die Burger

Article by Roshe Taka

Vyf mans is Donderdagaand in Ceres in hegtenis geneem wat ‘n 26-jarige minibustaxibestuurder vroeër die dag buite Shoprite op die dorp doodgeskiet het.

Soos vroeër berig, is die moord glo uit wraak gepleeg nadat ‘n lid van die Codeta-taxivereniging verlede Sondag in Nduli vermoor is.

Kapt. Lindikhaya Mkhontwana, ‘n woordvoerder van die Worcester-polisie, het in ‘n verklaring gesê die vyf mans, tussen 33 jaar en 64 jaar oud, is Donderdagaand deur die polisietaakspan in hegtenis geneem.

Volgens Mkhontwana wil dit voorkom of die moord spruit uit ‘n taxi-oorlog tussen die twee mededingende taxiverenigings Cata en Codeta.

Die moord was in dieselfde week wat Patrick Cosani (49), voorsitter van die Blackheath-Malibu-taxivereniging, en nog ‘n man, John Neethling, kort na mekaar in Blackheath doodgesiet is.

Bonginkosi Madikizela, Wes-Kaapse LUR vir vervoer en openbare werke, het verlede Dinsdag kort na die moord gesê die Blackheath-Maibu-gebied loop deur onder onwettige operateurs wat glo roetes oorneem, wat tot geweld en spanning tussen taxiverenigings gelei het.

Volgens Mkhontwana sou die mans gister in die landdroshof op Ceres verskyn het.

To Top