Transito-rooftog saai groot chaos

Die Burger

Artikel deur Johane Scott

Net toe Suid-Afrikaners dink die transitorooftog-tendens wat die land in onlangse jare geteister het, is verby, is ‘n veiligheidswag op die R44-pad geskiet en twee pendelaars beroof en met hul lewe gedreig.

Tussen vier en ses verdagtes het Maandag 6 Mei ‘n Fidelity-geldwa wat kontant vervoer het, van ‘n onbekende bedrag beroof. Die rooftog het 17:40 sowat 1,5km van die Durbanville-aansluiting tussen Windmeul-kelder en Klapmuts voorgekom.

Volgens sers. Bernadine Arendse, ‘n woordvoerder van die Klapmuts-polisie, het die verdagtes, wat in ‘n ou Mercedes gery het, die bakkie van die pad af probeer dwing. Toe hulle dit nie regkry nie, het hulle voor die bakkie ingedraai. Die verdagtes het toe van voor af op die bakkie geskiet en die bakkie het van die pad getrek.

Arendse sê die veiligheidswgate het in die veld gaan wegkruip. Al twee was beseer – een is in die hand geskiet en die ander se voorarm is beseer.

Arendse verduidelik die wagte het toe gesien dat ‘n swart sportnutsvoertuig die verdagtes oplaai.

Een van die slagoffers, wat anoniem wil bly, het vertel dat hy in die rigting van Klapmuts gery het toe die twee voertuie (die Mercedes en die sportnuts) die pad net na die Durbanville-aansluiting versper het. Voor hom was ‘n vrou wat op pad lughawe toe was om iemand te gaan haal. Hy sê hy het aanvanklik gedink dit is ‘n motorongeluk en het opgelet dat mense kratte uit ‘n bakkie met ‘n kap laai. Hy sê hy was nie seker wat besig was om te gebeur nie.

“‘n Man het na my toe geloop en ek het my deur oopgemaak, want ek wou hoor wat hy sê, maar toe sien ek hy het ‘n vuurwapen by hom en maak toe outomaties my deur toe en sluit dit,” vertel die man. Die gewapende man was nie vermom nie.

“Hy het toe baie hard met die loop van die vuurwapen aan my venster geklop en gesê hy my gaan skiet,” vertel hy en voeg by dat die verdagte duidelik gespanne was. Hy sê hy het nie aandag aan die vuurwapen gegee nie en het oogkontak met die verdagte vermy. Hy het sy deur oopgemaak, waarna die verdagte sy motorsleutels en selfoon geëis het.

“Hy het gesê ek moet hardloop, want hy gaan my skiet. Ek het teen ‘n wal opgehardloop, en die hele tyd vir die skoot gewag,” vertel die man. Die verdagtes het toe sy voertuig en die vrou wat voor hom gery het, se voertuig gebruik om die pad verder te versper.

Verdere drama het ontvou toe die rowers die Mercedes op die toneel gelaat en met die sportnutsvoertuig in die rigting van Cloetesville in Stellenbosch gejaag het. ‘n Polisiebeampte het die voertuig opgemerk en hulle agternagesit. Die voortvlugtendes het met hul voertuig teen ‘n stilstaande voertuig voor die Cloetesville-polisiekantoor gebots nadat die polisie die rowers ingehok het, en ‘n skietery het ontstaan.

Arendse sê die verdagtes het ‘n wapen op ‘n polisiebeampte gerig, sy polisiebakkie gekaap en weer probeer wegjaag. Hierna het die bestuurder weer teen die polisiebakkie gebots, waarna die verdagtes te voet in verskillende rigtings probeer weghardloop het.

Volgens Arendse is twee verdagtes kort daarna in hegtenis geneem. Die polisie het op twee vuurwapens beslag gelê en Arendse sê van die geld is by hulle gekry. Sy kon nie bevestig hoeveel gesteel of teruggevind is nie.

To Top