Vegter vir genadedood weer in hof

Die Burger, artikel deur Jana Breytenbach

Prof. Sean Davison (57), kampvegter vir die wettiging van genadedood en stigter van die groep Dignity SA, gaan nou teregstaan op twee aanklagte van moord op twee mans wat wou sterf weens onderskeidelik gestremdheid en siekte.

En daar is ‘n moontlikheid dat die lys langer kan word.

‘n Tweede klag van moord is gister in die landdroshof in Kaapstad teen Davison gevoeg toe hy vir die tweede keer in die hof verskyn het.

Hy is in September in hegtenis geneem op ‘n aanklag van moord in 2013 op dr. Anrich Burger (43), sy doktersvriend – ‘n kwadrupleeg sedert hy op 34 in ‘n motorongeluk was. Hy het geen geheim gemaak van sy begeerte om sy lewe te beëindig nie.

Adv. Megan Blows, staatsaanklaer, het ‘n tweede klag van moord teen Davidson ingedien. Dit hou verband met die dood van Justin Varian wat glo wou sterf. Varian, wat aan motorneuronsiekte (MNS) gely het, is op 25 Julie 2015 in Fresnaye, Kaapstad, dood. Hy het glo voor sy dood hulp gesoek om sy lewe te beëindig.

Die staat voer aan Davison het ‘n plastieksak oor Varian se kop getrek en helium daarin gespuit om hom te versmoor.

Blows het gesê dit is die voorlopige klagte en dat die moontlikheid bestaan dat daar nog aanklage teen Davison kan kom. Sy het bevestig die staat het reeds goeie vordering gemaak met die saak deurdat die ondersoekspan verskeie verklarings bekom het.

Die saak teen Davison is by ooreenkoms tussen die partye tot 29 Januarie uitgestel en Davison se borgtog is verleng.

Davison het in September 2014 erken hy het Burger in 2013 gehelp om sy eie lewe te beëindig.

Die polisie het intussen sy ondersoek uitgebrei nadat nuwe inligting ontvang is en Davison van moord aangekla.

Josua Greeff, Davison se regsverteenwoordiger, het gesê sy kliënt sal skuld op die aanklag ontken. Dit is en was nog altyd sy mening dat hy geen misdaad gepleeg het nie.

Davison het in sy aansoek om borgtog gesê hy help onder meer die polisie met wetenskaplike besonderhede in verskeie ander ondersoeke. Hy is ook die persoon wat die DNS-toetse ontwerp het wat gebruik word in sake waar daar meer as een verkragter betrokke is.

Davison het geen vorige veroordelings in Suid-Afrika nie, maar hy het ‘n vorige veroordeling in ‘n soortgelyke saak in Nieu-Seeland toe hy sy ma gehelp het om haarself om die lewe te bring. Hy is in 2010 daar in hegtenis geneem nadat hy sy 85-jarige ma, wat sterwend was aan kanker, gehelp het om te sterf.

Hy is tot vyf maande huisarres gevonnis en het in 2012 na Suid-Afrika teruggekeer. Hy het Dignity SA gestig en voer ‘n stryd om genadedood te laat wettig.

  • Dignity SA is betrokke by ‘n saak waarin dr. Sue Walter (43), ‘n onkoloog, en Dieter Harck (68) in die hooggeregshof in Pretoria aansoek doen om die wettiging van genadedood. Dignity SA is as ‘n vriend van die hof toegelaat.
To Top