TV-Ster reageer op berigte – ‘Ek was nog nooit in ‘n tronk nie’

Die Burger – Marelize Barnard

“Ek word nie aangehou nie en is nog nooit aangehou nie. Al waarop ek nou fokus, is die welstand van my kind,” het die bekende televisiepersoonlikheid Katlego Maboe gister gesê.

“Ek was nog nooit in ‘n tronk nie. Dit is ‘n baie moeilike situasie vir my persoonlik en vir almal betrokke. Maar ons mag nie met die media praat nie. Ons is in ‘n tipe van media-lockdown,” het hy gesê.

Maboe sê omdat hy verbied word om met die media te praat, kan hy homself nie in die openbaar verdedig teen aantygings teen hom nie.

“Ek fokus net daarop om ‘n goeie pa vir my kind te wees. Ek is vandag saam met hom.”

Hy het herhaal dat die hof vir al die partye gesê het hulle mag nie met die media praat nie.

“Ek moet dink aan my kind, hoewel ek myself ook moet verdedig. Op die oomblik is my fokus my kind. Ek moet dink wat hy oor 20 jaar van nou af gaan dink wanneer hy dink aan alles wat nou gesê word,” sê Maboe.

Wat alles in die media gesê word, het ‘n swaar emosionele impak op sy familie.

“Ek vra die media vir regverdigheid en om professioneel behandel te word.”

Maboe se verhouding met sy gewese meisie het verlede jaar in die nuus gekom toe dit berig is ‘n video is op sosiale media versprei waarin hy glo erken dat hy ontrou was.

Hofsake het gevolg en in een van die sake staan hy tereg op ‘n aanklag dat hy ‘n beskermingsbevel oortree het. Hy het die aantyging teen hom ontken.

Die twee partye is ook in ‘n siviele geding in die gesinshof gewikkel. Die media mag nie berig oor die inhoud van sake in die gesinshof nie.

  • Die naam van die gewese meisie word weerhou om die identiteit van hul kind te beskerm.
To Top