Valke slaan slag met perlemoenvonds

Die Burger

Die Valke se eenheid teen georganiseerde misdaad het gister in Kaapstad beslag gelê op perlemoen ter waarde van meer as R1,9 miljoen.

Die Valke, in samewerking met die departement van omgewingsake, bosbou en visserye, het op 8776 uitgedroogde en 26 uitgedopte perlemoen in ‘n gebou in Kewridge, Edgemead, afgekom.

Twee verdagtes sal môre in die landdroshof in Goodwood verskyn op aanklag van die onwettige bedryf van ‘n verwerkingsaanleg.

Die afgelope twee maande het die Valke verskeie kere aan die deure van onwettige perlemoenstropers geklop.

In Oktober is berig oor perlemoensmouse wat ontwrigting in die hoofstraat van die kusdorpie Kleinmond veroorsaak het nadat die Valke smouse uit die Overhills-gemeenskap in hegtenis geneem het.

Later in Oktober het hulle ook beslag gelê op onwettige perlemoen ter waarde van R15 miljoen in Milnerton en die nywerheidsgebied naby die Kaapstad Internasionale Lughawe.

Vroeg in November het hulle in Montague Gardens R1 miljoen se perlemoen gekry.

To Top