Valke en polisie kry perlemoen van R15m. in klopjate

Die Burger, artikel deur Warda Meyer, dated 23 October 2020

Die polisie en die Valke het in twee afsonderlike klopjagte vandeesweek in Milnerton en by die nywerheidsgebied by die Kaapstad-lughawe op perlemoen ter waarde van R15 miljoen afgekom.

Die Wes-Kaapse polisie het Woensdag twee verdagtes in hegtenis geneem nadat hulle op perlemoen met ‘n straatwaarde van R7 miljoen in Milnerton beslag gelê het.

Kapt. Frederick van Wynk, polisiewoordvoerder, sê die operasie deur lede verbonde aan die nasionale intervensieeenheid en misdaadintelligensie, het gelei tot die inhegtenisneming van twee buitelandse burgers wat in besit van die perlemoen gevind is.

“Die lede het Woensdag omstreeks 14:00 gereageer op inligting oor perlemoen in ‘n kelder in ‘n woonstelgebou in Century City, Milnerton. Hulle het afgekom op drie voertuie wat gelaai was met perlemoen in plastieksakke,” sê van Wyk.

Beslag is gelê op die drie voertuie waarin sowat 23 000 perlemoene was.

Van Wyk sê die ontskulpte perlemoen is aan die departement van landbou, bosbou en visserye oorhandig.

Die verdagtes sal eersdaags in die landdroshof in Kaapstad verskyn.

Intussen het die Valke Dinsdag ook op 40 sakke perlemoen met ‘n straatwaarde van R8 miljoen by die lughawe se nywerheidsgebied in Kaapstad beslag gelê.

Zinzi Hani, woordvoerder van die Valke, sê hul ondersoekspan het op ‘n onwettige stoorplek in Manhattanstraat toegeslaan en op die gedroogte perlemoen afgekom.

Beamptes van misdaadintelligensie en van die department van landbou, bosbou en visserye was deel van die operasie.

“Toe die lede van die Valke by die stoor aankom, was daar niemand.”

Volgens Hani is daar beslag gelê op die perlemoen en die soektog na die eienaars van die onwettige perlemoen word voortgesit.

To Top