Dagmoeder ‘het mengsel in oond probeer gooi’

DIE BURGER

Verslaggewer: Jackie Pienaar-Brink

Somerset-Wes

‘n Dagmoeder het probeer om ‘n medisynemengsel wat kinders in haar sorg vermoedelik toegedien is oor kos in die oond te gooi toe die polisie toeslaan, het ‘n polisiebeampte gister getuig. Mev. Monica Helm (62) word daarvan verdink dat sy ‘n mengsel van oor-die-toonbank- en skedule-vyf-medisyne aan babas en kleuters in haar sorg gegee het sodat hulle kon slaap. Sy ontken skuld op agt aanklagte van aanranding met die opset om ernstig te beseer, die alternatief van mishandeling, en ‘n aanklag dat haar Kinderland-dagsorgsentrum in Heldervue, Somerset-Wes, nie na behore geregistreer was nie. Speurinsp. Abraham Arries van die polisie se eenheid teen gesinsgeweld, kindermishandeling en seksuele misdrywe in Khayelitsha het in die streekhof getuig hy was by toe ‘n polisieklopjag op 12 Desember 2007 uitgevoer is. Volgens hom het Helm, terwyl die hoofslaapkamer deurgesoek is, gesê sy moet kombuis toe gaan omdat haar kos brand. Daar het sy ‘n beker met vloeistof langs die mikrogolfoond geneem en dit oor ‘n gereg in die oond probeer gooi. Voordat sy gekeer is, het van die vloeistof wel daarop beland en ‘n skuim gemaak. Toe hy haar na die mengsel vra, het sy volgens hom gesê dit is ‘n mosterdsous, maar sy kon nie verklaar watter bestanddele daarin was nie. Vir hom het dit na “pille en medisyne” geruik. Daar was ook ‘n emmertjie met ‘n “klomp pilhouertjies en -boksies in”. Mnr. Jacques van Rensburg het getuig hoe geskok hy dieselfde oggend was toe die polisei hom bel en versoek om so gou moontlik sy dogter by Kinderland te gaan haal. Hy was van Kaapstad onderweg en moes weens die skok van die N2 aftrek. “My suster moes verder bestuur.” Sy dogter was baie slaperig en het gesukkel om wakker te word. Hy het nooit gevoel iets snaaks is by Kinderland aan die gang nie. Sy kind se slaappatroon was wel heeltemal deurmekaar en sy was baie buierig. Nadat sy uitgehaal is, het sy rustiger geword, snags baie beter geslaap, beter geëet en was sy minder aggressief. Die verdediging voer aan as die huishulp, me. Angeline Carolus, die kinders enige middels toegedien het, was dit sonder Helm se wete. Helm ontken ook dat as kinders nie die mengsel per lepel wou inneem nie sy dit in ‘n botteltjie met ‘n tuit aan hulle gegee het, soos getuig is. Die saak duur vandag voort voor streeklanddros Marilyn Cannon. Die aanklaer is me. Karien Theron. Mnr. Keith Gess verskyn vir Helm.

To Top