2 Vas oor perlemoen van R1,5m.

Die Burger, deur Andre Kusel

Twee mans is gisteroggend in Atlantis in die Wes-Kaap vasgetrek vir die onwettige besit van duisende stukke perlemoen.

Kapt. FC van Wyk, provinsiale polisiewoordvoerder, sê verskeie polisie-eenhede het omstreeks 07:30 ‘n klopjag uitgevoer op ‘n perseel in Klein Dassenberg-straat, waar hulle op ‘n onwettige verwerkingsaanleg vir perlemoen afgekom het.”

“Groot hoeveelhede perlemoen was in die proses om gedroog te word. Beslag is gelê op altesame 5270 stukke droë perlemoen,” sê Van Wyk in ‘n verklaring.

Die geraamde waarde van die perlemoen is sowat R1,5 miljoen.

Beslag is ook gelê op ander toerusting soos ‘n kookpot, gassilinders, waaiers, skale en droograkke. Die twee mans, onderskeidelik 44 en 19 jaar oud, sal binnekort in die landdroshof in Atlantis op aanklagte ingevolge die Wet op Lewende Mariene Hulpbronne verskyn.

To Top