Meer as 40 ‘stropers’ in drie weke vasgevat

Die Burger

Meer as 40 vermeende perlemoenstropers is die afgelope drie weke in  hegtenis geneem en daar is op vyf bote, almal van die Gansbaai-gebied, beslag gelê in ‘n intensiewe veldtog teen stropers.

Die departement van landbou, bosbou en visserye sê sy vissery-beheerbeamptes het groot sukses behaal in die voortslepende stryd om die land se mariene hulpbronne teen stropers te beskerm.

Carol Moses, woordvoerder van die department, sê die vyf bote waarop beslag gelê is, kan met stropery langs die Gansbaaikuslyn in die Wes-Kaap verbind word.

“Dertien van die verdagtes wat oor die tydperk in hegtenis geneem is, is vir perlemoenstropery in Gansbaai aangekeer.”

Moses sê die jongste sukses was die naweek, toe hul lede Saterdagaand in ‘n jaagtog op see op ‘n boot vol smokkelperlemoen beslag gelê het.

“Die verdagtes het na bewering uit die boot gespring en verdwyn.”

Hoewel niemand in hegtenis geneem is nie, het die departement op perlemoen en toerusting beslag gelê.

“Daar is beslag gelê op 2400 perlemoene, 33 suurstofbottels en ander duiktoerusting wat op die boot gekry is.”

Moses sê in ‘n afsonderlike voorval is ‘n verdagte in die Kalkbaai-hawe aangekeer in verband met die smokkel van Weskus-kreef. Die polisie in Muizenberg ondersoek die saak.

Moses sê hulle fokus ook op diegene wat die gestroopte seediere koop. Beamptes het ‘n koper by die China Mall in Oos-Londen vir die besit van gesmokkelde inkvis en garnale aangekeer.

“In ‘n afsonderlike voorval is vyf vermeende smokkelaars ook in Durban vasgetrek vir die besit van 575 Ooskus-krewe.

“Daar is op ‘n voertuig, yskas en ander toerusting beslag gelê,” het sy gesê.

To Top