Talle in Welgemoed was sonder internet

Tygerburger, Nielen de Klerk

Ongeveer 100 inwoners en sake-ondernemings in Welgemoed en Doordekraal moes vir etlike dae sonder telefoon- en internetdienste klaarkom nadat hul Telkomlyne twee weke gelede onklaar geraak het.

Vir baie inwoners is dit die tweede voorval in minder as ‘n jaar nadat ‘n soortgelyke probleem die gebied verlede Julie lamgelê het.

‘n Inwoner, Emerald van Zyl, meen hy het duisende rande in die proses verloor.

“Al my nuwe klante moes die landlyn gebruik,” vertel hy. “Dit is absoluut belaglik. Ons kan nie sonder hierdie ouens (Telkom) klaarkom nie.”

Van Zyl, wat in die finansieële sektor werk, is ook verlede jaar geraak toe Tekomlyne vir weke onklaar was.

Baie van sy klante, wat ‘n lae inkomste verdien, kan nie internetdienste bekostig nie en kommunikeer per faks, wat ook hierdeur geraak is.

Volgens ‘n Telkom-woordvoerder is die probleem, soos in die vorige geval, ‘n gevolg van “derdepartyskade” aan kabels in verskillende dele van Kommandeurstraat.

In verjaar se geval is ‘n kabel op 22 Mei beskadig en het dit gebruikers op verskillende manier beinvloed. Party gebruikers se telefoon- of internetlyne was nutteloos, terwyl ander beide dienste verloor het.

“Weens die intensiteit van die probleem moes die kabel vervang word, wat ‘n tydsame proses is,” sê die woordvoerder.

Die kommunikasiereus het nie geantwoord oor of die twee afsonderlike gevalle in die straat aan mekaar verwant is nie. Gebruikers se dienste is weer op Saterdag 9 Junie herstel – 18 dae nadat dit vir die eerste keer onklaar geraak het.

To Top