Bestuurder van sorgsentrum in hof oor ‘korrupsie’

Die Burger

Artikel deur Jana Breytenbach

Die bestuurder van ‘n sorgsentrum in Woodstock, Kaapstad, het gister haar eerste verskyning in die hof gemaak.

Amani Fonguh Okpara (49) het op aanklagte van korrupsie en bedrog verskyn.

Kapt. Philani Nkwalase, woordvoerder van die Valke, sê die saak is tot Dinsdag uitgestel om borgtoginligting van Okpara te kry.

Sy het na bewering geld van skenkers wat vir die sentrum bedoel was in haar eie bankrekening inbetaal en gebruik.

Die naam van die sentrum word weerhou om die kinders te beskerm.

Okpara is verlede Vrydag in hegtenis geneem nadat die Valke en die departement van maatskaplike ontwikkeling ‘n klopjag by die sentrum uitgevoer het. Ten tyde van Okpara se inhegtenisneming was daar 35 kinders in die sorgsentrum waarvan nie een geregistreer is nie.

“Die departement het gehelp om die kinders met hul families te nerenig”, sê Nkwalase.

Dit was die tweede keer in drie dae dat kinders uit die sorg van die sentrum gehaal is. Op 12 Junie is 16 kinders uit die sentrum verwyder nadat klagtes van beweerde seksuele en fisieke mishandeling aan die lig gekom het. Die Burger het verlede week berig die woordvoerder van die departement, Esther Lewis, sê die departement het ‘n week tevore opdrag gekry om die kinders, wat tussen 8 en 17 jaar oud is, uit die sentrum te verwyder.

Luidens ‘n verklaring van die sorgsentrum voldoen hy jaarliks aan die evaluerings deur die department. Die sorgsentrum voer aan dat die departement nooit die saak met hom bespreek het of hom oor die verwydering van die kinders in kennis gestel het nie.

Die departement is in die proses om die sentrum se registrasie op te skort hangende die uitkoms van die ondersoek.

To Top