Aanval is ‘n ruk lank beplan, hoor hof

DIE BURGER, ARTIKEL DEUR MAYGENE DE WEE

Kaapstad – Die aanval verlede jaar op ‘n sakeman van Brackenfell was volgens die ondersoekbeampte in die saak nie die eerste een nie.

Kapt. Dean Kieweits het gister in ‘n aansoek om borgtog deur Angelo Nico Isaacs getuig dat Isaacs by minstens twee vorige geleenthede probeer het om Freddie Pruis jr. te vermoor.

Die eerste was na bewering op 4 Oktober, drie dae voordat Isaacs na bewering vir Pruis op 7 Oktober in ‘n lokval gelei en 14 keer met ‘n dolk gesteek het.

Kiewiets het ook getuig dat daar SMS-boodskappe tussen Inge Chantal Pruis en Dean Johnson, sowel as tussen Johnson en Isaacs, is – wat hulle by die voorval betrek.

Inge is Pruis se nou vervreemde vrou. Johnson is volgens die staat, haar minnaar. Die staat beweer dat hulle saamgesweer het om Pruis te vermoor.

In van die SMS boodskappe van Inge aan Johnson het sy glo gesê wat haar man se bewegings is. “Daar is ‘n SMS wat sê hy skeer nou. Dan is daar een wat sê hy is in die stort. Daar is ook ‘n SMS wat sê sy gaan hom nou stuur om ‘n karstoeltjie te gaan koop. ‘n Ander SMS lui dat hy apteek toe gaan, maar dat hy haar motor gebruik.”

Kiewiets het getuig dat Johnson op sy beurt die SMS’e aan Isaacs gestuur het.

Die ondersoekbeampte het ook getuig dat hulle (Johnson en Inge) glo nege maande lank gesukkel het om iemand te kry om die daar uit te voer.

“Ek glo die beskuldigde wat die ideale pion om te gebruik. Uit boodskappe kom ek agter dat die aanslag al ‘n geruime tyd beplan is.”

Isaacs het, sou hy op borgtog vrygelaat word, niks wat hom keer om die daad uit te voer nie, het Kiewiets gesê.

Uitspraak in die aansoek word vandag gelewer.

To Top