‘Is jy Christen?’ vra aanvaller voor doksteke

DIE BURGER, ARTIKEL DEUR MAYGENE DE WEE

Kaapstad – “Is jy ‘n Christen?”

Dit was glo die laaste vraag wat Freddie Pruis jr., ‘n sakeman van Brackenfell, se vermeende aanvaller aan hom gestel het voor dat hy Pruis glo 14 keer met ‘n dolk gesteek het.

Pruis het die aanval op 7 Oktober verlede jaar in Epping oorleef. Die hof het gister gehoor dat hy daarin geslaag het om van Angelo Nico Isaacs, sy vermeende aanvaller, weg te jaag.

Die ondersoekbeampte, kapt. Dean Kiewiets, het in Goodwood-landdroshof getuig dat Pruis in sy bakkie gesit het toe hy omstreeks 19:00 op 7 Oktober verlede jaar aangeval is.

Kiewiets het in ‘n aansoek om borgtog deur Isaacs getuig. Isaacs is op 26 November 2015 in hegtenis geneem.

“Hy (Pruis) het in trurat gery, amper bo-oor die beskuldigde, deur ‘n betonmuur tot by die brandweerstasie in Epping, waar hy gehelp en na die N1 Stad-hospitaal gehaas is,” het Kiewiets getuig.

Isaacs het Pruis, volgens Kiewiets se getuienis, glo in Epping ontmoet om ‘n kwotasie vir sonpanele te gee. Pruis is ‘n sakeman wat onder meer sonpanele installeer.

Die staat beweer in hofstukke dat Isaacs deur Inge Chantal Pruis (27), Pruis se nou vermeende minaar, Dean Johnson (31), gehuur is om Pruis te vermoor.

Inge, ‘n laerskoononderwyseres van Bothasig, en Johnson, ‘n skopbokskenner van uitsig, is albei op 19 Desember verlede jaar in hegtenis geneem. Hulle is op 28 Desember op borgtog van R10000 vrygelaat en staan tereg op aanklagte van poging tot moord en sameswering om moord te pleeg.

Inge en Johnson moet weer op 24 Maart in die Goodwood landdroshof verskyn.

Kiewiets het onder meer getuig dat die motief nog onbekend is, hoewel dit van ‘n geldelike aand kan wees.

Volgens hom het Inge verlede jaar R64000 uit ‘n Allan Grey rekening getrek. Hy het ook getuig dat daar SMS boodskappe tussen Johnson en Isaacs is waarin Johnson glo sê hy soek sy R40000 se waarde. Wat presies die R40000 se waarde is, kon Kiewiets nie getuig nie.

Hy het ook getuig dat Pruis vir Isaacs die dag waarop Isaacs by sy werk in hegtenis geneem is, sonder moeite uitgeken het.

Landdros Paul Visagie het die aansoek om borgtog tot vandag uitgestel vir uitspraak. Die staansaanklaer is Clement Abrahams.

To Top