‘MINNAAR’ GETUIG DALK VIR DIE STAAT

DIE BURGER, ARTIKEL DEUR MAYGENE DE WEE

Kaapstad – Die Kraaifonteinse sakeman wat verlede jaar 14 keer deur ‘n man met ‘n mes gesteek is, se vrou het gister in die Goodwood-landdroshof in verband met die aanval verskyn.

Die aanvaller van die laerskoononderwyseres van Bothasig se nou vervreemde man, asook die man wat die staat beweer haar minnaar is, was ook in die beskuldigdebank.

Inge Chantal Pruis (27) en haar vermeende minnaar, Dean Johnson (31), ontken eger dat hulle enigiets met die aanval op Pruis se man, Freddie Pruis jr., te doen gehad het.

Pruis is glo op 7 Oktober verlede jaar 14 keer deur sy vermeende aanvaller, Angelo Nico Isaacs, gesteek. Die staat beweer in hofstukke dat Inge Pruis en Johnson saamgesweer het om haar te vermoor, dat hulle in ‘n verhouding is en dat Isaacs die huurmoordenaar is wat hulle gekry het om Pruis te vermoor.

Die motief is nog onbekend.

Isaacs, van Elsiesrivier, is op 26 November, meer as ‘n maand na die aanval op Pruis in Epping, in hegtenis geneem. Hy staan tereg op aanklagte van poging tot moord, die onwettige besit van ammunisie en sameswering om moord te pleeg.

Inge en Johnson is albei op 19 Desember verlede jaar in hegtenis geneem en is op 28 Desember op R10000 se borgtog elk vrygelaat. Hulle staan tereg op aanklagte van poging tot moord en sameswering om moord te pleeg.

Die saak teen Inge en Johnson, ‘n skopbokskenner, is gister in die Goodwoodlanddroshof tot 24 Maart uitgestel.

Isaacs se borgtogaansoek het gister in dieselfde hof voortgegaan. Hy het onder meer getuig dat hy nie vir Freddie Pruis persoonlik ken nie, maar hom al wel in ‘n winkelsentrum of kerk kon gesien het. Hy ken ook nie vir Inge Pruis nie, maar ken Johnson al langer as 12 jaar.

Op ‘n vraag van Clement Abrahams, die staatsaanklaer, of Johnson hom al van Inge Pruis vertel het, het Isaacs gesê dat hy nie die vraag gaan beantwoord nie.

Hy was ook verbaas toe die staatsaanklaer hom inlig dat daar ‘n moontlikheid is dat Johnson ‘n staatsgetuie in die saak kan word.

Landdros Paul Visagie het die saak tot Woensdag uitgestel.

To Top