‘Huurmoordenaar’ kry borgtog

DIE BURGER, ARTIKEL DEUR MAYGENE DE WEE

Kaapstad – Die man wat daarvan verdink word dat hy gehuur is om ‘n sakeman van Brackenfell te vermoor, se borgtog is gister op R10000 vasgestel.

Teen druktyd was Angelo Nico Isaacs se borgtog egter nog nie betaal nie.

Die staat beweer in hofstukke dat Isaacs deur Inge Chantal Pruis (27) en haar vermeende minnaar, Dean Johnson (31), gehuur is om Pruis se nou vervreemde man, Freddie Pruis jr., te vermoor. Inge, ‘n laerskoononderwyseres van Bothasig, en Johnson, ‘n skopbokser van Uitsig, is albei op 19 Desember verlede jaar in hegtenis geneem. Hulle is op 28 Desember op borgtog van R10000 vrygelaat en staan tereg op aanklagte van poging tot moord en sameswering om moord te pleeg.

Landdros Paul Visagie het gister in die Goodwood landdroshof gesê die vasstel of weiering van borgtog is nie ‘n strafmaatreël nie.

“Borgtog is om te verseker dat die gang van geregtigheid vlot verloop,” het hy gesê. Visagie het dit ook onverstaanbaar gevind dat die staat nie Pruis of Johnson se borgtog in Desember verlede jaar teengestaan het nie, maar wel Isaacs s’n. Isaacs staan tereg op aanklagte van poging tot moord, sameswering om moord te pleeg en onwettige besit van ammunisie.

“Hoewel ek Maandag in die ondersoekbeampte, kapt. Dean Kiewiets, se getuienis ingeklim het, beteken dit nie dat die hof nie sy getuienis aanvaaar nie. Die bewyslas rus egter op u om te bewys dat dit in belang van geregtigheid is dat u op borgtog vrygelaat moet word. Hoe dit ook sy, ek is tevrede dat u die hof oortuig het om u op borgtog bry te laat,” het Visagie gesê.

Die drie verskyn weer op 24 Maart in die hof.

To Top