‘Dis nou jou kans vir plan B’ – SMS

Die Burger, deur Maygene de Wee

-Pruis-saak tot November uitgestel-

‘n Dag nadat Freddie Pruis jr. aangeval en verskeie kere met ‘n skerp mes gesteek is, is ‘n SMS-boodskap van ‘n nommer wat as “Dean se nommer” op Angelo Isaacs se selfoon gestoor is aan Isaacs gestuur.

Die SMS wat om 03:59 die oggend van 8 Oktober 2015 gestuur is, het gelui: “Oh ok…en jou kol., mnr. T, het F in hom gery? – ja en oor hom? – ja hehe, Oh, want hulle het gedink hy is miskien in ‘n hospitaal die bloed was oral. Sy bakkie, sy top was vol bloed…hy het baie bloed verloor. Hy gaan vir weke in die hospitaal wees.” (sic)

Die persoon wat die boodskap van “Dean se nommer” geskryf het, skryf verder onder meer dat Isaacs goed gevaar het, maar dat dit nou sy kans is om plan B deur te voer.

Hy skryf ook Isaacs “moet dit klaarmaak voor hulle ‘n identikit van jou gesig kan maak. ek sal die  hospitaal inligting by haar kry en vir jou stuur.” (sic)

Die ondersoekbeampte in die verhoor van Inge Pruis, ‘n laerskoolonderwyseres van Bothasig, en haar karatekenner-minnaar, Dean Johnson van uitsig in Ravensmead, asook die vermeende huurmoordenaar, Angelo Isaacs, het Dinsdag begin getuig oor die 198 SMS-boodskappe wat hy van Isaacs se selfoon afgelaai het.

Die boodskappe is tussen 2 Oktober 2015 en 23 Oktober 2015 tussen Dean en Isaacs se nommers gestuur.

Die persoon wat volgens die SMS-boodskappe vermoor moes word, is volgens die staat Freddie Pruis jr., Inge Pruis was tydens die aanval op hom nog getroud.

Inge Pruis, Johnson en Isaacs staan tereg op aanklagte van sameswering om moord te pleeg.

Hulle word daarvan beskuldig dat hulle tussen Oktober 2015 en November 2015 op verskeie plekke saamgesweer het om vir Freddie Pruis jr. te vermoor.

Isaacs staan ook tereg op ‘n aanklag van poging tot moord.

Isaacs is op 26 Oktober 2015 in hegtenis geneem. Die polisie het destyds ook op sy selfoon beslag gelê.

Inge Pruis en Johnson is op 19 Desember 2015 in hegtenis geneem. Die polisie het op twee selfone in Johnson se besit, ‘n Blackberry Bold en ‘n Samsung, beslag gelê. Die polisie het ook beslag gelê ‘n selfoon wat in Inge Pruis se besit was.

Hul verhoor het Maandag in die streekhof in Parow begin. Al drie ontken skuld op die aanklagte teen hulle.

Pruis jr. is op 7 Oktober 2015 deur ‘n man by ‘n onderneming Bofors Circle in die Eppingnywerheidsgebied verskeie kere met ‘n mes gesteek. Hy het daarin geslaag om van sy aanvaller weg te kom en het na die Goodwood-brandweerstasie gery, waar hy gehelp is. Hy is later na die N1 Stad-hospitaal oorgeplaas.

Die ondersoekbeampte, lt.kol. Dean Kiewiets, het gister getuig dat hy die selfoonnommers en IMEI-nommers van die twee selfone waarop hy tydens Johnson se inhegtenisneming beslag gelê het per ongeluk omgeruil het….

Die saak teen hulle is gister tot 6 en 7 November uitgestel.

 

To Top