Polisie konfiskeer 87 sakke perlemoen

Die Burger, deur Shantel Moses

Die polisie is op soek na die bestuurder van ‘n Toyota Fortuner wat die hasepad gekies het toe beamptes van die Wes-Kaapse verkeersdepartement sy voertuig afgetrek het en daarna op 87 sakke perlemoen beslag gelê het.

Die voorval het gisteroggend omstreeks 07:00 op die N2 naby Somerset-Wes plaasgevind.

Volgens die provinsiale verkeershoof, Kenny Africa, het beamptes die Toyota voorgekeer.

“Die bestuurder het uit die motor gespring en weggehardloop. Daarna het die beamptes die motor deurgesoek en 87 sakke perlemoen gevind. Die straatwaarde van die perlemoen is nog nie bekend nie.”

Die verkeersbeamptes het 10 270 perlemoene wat in die sakke was, aan die polisie in Somerset Wes oorhandig.

Africa sê hulle het ook op die voertuig beslag gelê. “Ons verwag om eersdaags ‘n inhegtenisneming te doen.”

To Top