‘Kuberboelie’ in hof. Crimen injuria: saak uitgestel vir ondersoek, Grindrod bly Uys verskyn ‘uiteindelik’

DIE BURGER

Verslaggewer – Leon-Ben Lamptrecht

KAAPSTAD – Die vermeende kuberboelie, mnr. Juan-Duval Uys (39), het gister vlugtig in die landdroshof hier verskyn op aanklagte van bedrog en crimen injuria. Die aanklag van crimen injuria is deur mnr. Simon Grindrod, van die OD, teen Uys ingedien, en houv erband met ‘n seksblog waarvoor Uys glo verantwoordelik was. Bekende Suide-Afrikaanse mans, onder wie ‘n gospelsanger en rugbyspeler, is by die blog, geskryf deur ‘n manlike prostituut, ene Skye, betrek. Die aanklag van bedrog hou verband met ‘n bedrag van R250. Uys, geklee in ‘n swart strepies-broek, ‘n swart baadjie, wit hemp en gestreepte pienk das, het gisteroggend op en af in die gang buite hofsaal 13 gestap, terwyl hy gewag het vir sy saak om voor te kom. Hy het ‘n goue sonbril in sy hand gedra en gedurig met sy prokureur, mnr. Reaz Khan, gesels. Toe Uys se saak teen omstreeks 11:35 in ‘n stampvol hofsaal voorgekom het, het landdros Phindi Norman sonder veel oponthoud dit uitgestel tot 20 Augustus sodat die ondersoek na die aanklag van crimen injuria afgehandel kan word. Me. I. Petersen het aangekla. Grindrod, wat gisteroggend voor die verrigtinge begin het buite die hof was, het gesê hy is bly dat Uys nou “uiteindelik” voor die hof verskyn. “Ek moet bieg, ek dink dit raak nou so ‘n bietjie verspot. Al is my prokureurs instruksie gegee om te eis, gaan ek myself persoonlik van die aangeleentheid onttrek. Ek dink hoe meer aandag hy kry, hoe erger raak hy,” het Grindrod gesê. Sapa berig dat Uys ‘n teeneis teen Grindrod wil instel vir opmerkings wat die politikus glo oor hom gemaak het. Uys beplan om R12 miljoen van Grindrod te eis. Khan het gister gesê sy kliënt het ‘n klag van crimen injuria teen Grindrod op Kroonstad, waar Uys in hegtenis geneem is, ingedien en oorweeg ook ‘n klag teen hom in Kaapstad. “Ons het nog nie die moontlikheid van ‘n eis bespreek nie.” Grindrod het gesê hy is ten minste verlig dat die bedrag wat Uys wil eis, kleiner geword het. Sondag was dit R40 miljoen.” “Dit gaan oor beginsels,” het hy gesê en bygevoeg dat Uys sy karakter aangeval het. Uys is ‘n omstrede figuur wat onder meer betrek is by die berugte crimexposouthafrica- (Cesa) webwerf. Mnr. Neil Watson, wat die webwerf begin het, was glo net ‘n ander naam wat Uys gebruik het. ‘n Ander koordineerder van Cesa, mnr. Shaun Thompson, is glo ook Uys. Uys is ook die eertydse leier van die Gay and Lesbian Alliance (GLA). Gayregte-groepe het in die verlede beweer die GLA bestaan slegs uit Uys en die party se woordvoerder, mnr. David Baxter, wat ‘n alter ego van hom was.

To Top