Lugwaardin los op twee van drie aanklagte van diefstal

DIE BURGER

Verslaggeefster – Althea Nieuwenhuizen

BELLVILLE – ‘n Lugwaardin van die Suid-Afrikaanse Lugdiens, wat daarvan beskuldig word dat sy sowat twee jaar gelede ‘n passasier op ‘n vlug besteel het, is hier in die landdroshof onskuldig bevind op twee van die drie diefstalaanklate. Linda Charity Danie (26) is in Mei 2005 aangekeer nadat ‘n passasier se ring van R10000 en buitelandse valuta van sowat R20000 in haar besit gevind is. Landdros David Tonisi het gister bevind dat die hof ‘n sterk saak het teen Danie ten opsigte van die gesteelde ring en dat daar sekere aspekte is waarvoor sy vrae moet beantwoord. Mnr. Ben Mathewson, vir Danie, het die hof gevra om ontslag op al drie aanklagte. Tonisi het die aansoek toegestaan ten opsigte van die twee aanklagte wat verband hou met die buitelandse valuta. Mathewson het betoog dit is nie ‘n oortreding om buitelandse valuta in jou besit te hê nie. Kajuitbemanning word voorsien van ponde op vlugte wat in Londen land. En die frank wat Danie in haar besit gehad het, het ‘n vriendin vir haar gegee, het Danie vroeër getuig. Die klaer het eers twee maande na die verdwyning van haar ring besef dat van haar ponde ook weg is. Daar is geen getuienis dat die geld deur die beskuldigde gesteel is nie, het hy gesê. Daar is selfs nie getuienis dat die klaer se geld wel gesteel is nie, het hy gesê. Die verdediging het aangedui dat Danie wil getuig. Die saak is tot 12 Oktober uitgestel vir die verdediging se saak. Me. Natasha Mshodi kla aan.

To Top