Saak teen dagmoeder uitgestel oor getuies

Die Burger

Verslaggewer: Ilse Krige

Somerset-Wes – Teleurstelling en ‘n persepsie van die beskuldigde dat slegs die staat bevoordeel word met die roep van nuwe getuies, is gister hier in die streeklanddroshof op rekord geplaas. Uitspraak is gister verwag in die saak waarin aangevoer word dat me. Monica Helm, ‘n dagmoeder, vir die kleuters in ‘n dagsorgsentrum susmiddels ingegee het. Streeklanddros Marilyn Cannon het egter gesê dit is belangrik dat sy nog getuies wat gedurende die verhoor deur ander getuies genoem is, moet roep. “Die rede hoekom die twee getuies nie vandag hier kan wees nie, is omdat een van hulle na Johannesburg verhuis het,” het sy verduidelik. Mnr. Keith Gess, Helm se prokureur, het gesê hy het aan sy kliënt die stand van sake verduidelik, maar sy wou nietemin haar misnoeë uitspreek. Volgens die verdediging moes die staat reeds in die verloop van die saak die getuies geroep het. Cannon het aangedui sy hoef nie te verduidelik waarom sy nog getuies wil aanhoor nie. “Ek het gedurende die reses deur groot volumes getuienis in hierdie saak gewerk. Die hof is heeltemal daarop geregtig om gebruik te maak van dit waarvoor die wet voorsiening maak. Die saak word dus vir die aanhoor van die twee verdere getuies tot 14 Februarie uitgestel en uitspraak sal op 17 Februarie plaasvind,” het sy beslis. Helm staan tereg op agt aanklagte van aanranding met die opset om ernstig te beseer. Die alternatiewe aanklag is kindermishandeling. Sy het die Kinderland-dagsorgsentrum in Somerset-Wes bedryf. Helm is op 12 Desember 2007 in hegtenis geneem omdat sy na bewering voorskrif-susmiddels aan die kinders in haar sorg gegee het. Me. Janine Heyns, ‘n ma van een van die kinders, het ‘n klag by die polisie ingedien nadat daar slaapmiddels in die urinemonster van haar seun, Michael, gevind is.

Twis oor urine in dagmoeder saak

Die Burger

Verslaggewer: Jan Gerber

Die geldigheid van forensiese bewyse dat ‘n dagmoeder die kinders in haar sorg susmiddels ingegee het, is een van die belangrikste aspekte wat gister in die slotbetoë van die dagmoeder se verhoor ter sprake was. Me. Monica Helm staan in die streekhof hier tereg op agt aanklagte van aanranding met die opset om ernstig te beseer. Die alternatiewe aanklag is kindermishandeling. Sy is in Desember 2007 in hegtenis geneem omdat sy na bewering voorskrif-kalmeermiddels aan die kinders in haar sorg gegee het. Sy het die Kinderland-dagsorgsentrum in Heldervue, Somerset-Wes, bedryf. Dr. Cornelius Viljoen, ‘n biochemie-kenner, is gister in kruisverhoor geneem. Hy het voorheen getuig die analis van die departement van gesondheid wat die kinders se urine ontleed het, se kennis is nie op peil nie. Hy was krities oor verskeie tegniese aspekte van haar analise en verslag. Hy het vroeër getuig dit is “toevallig en verkeerd” dat die betrokke middels in die kinders se urinemonsters gevind is. Me. Karien Theron, die staatsaanklaer, wou weet of dit ook toevallig en verkeers is dat geen middels gevind is in die urine van ‘n seuntjie wat dae vantevore uit die dagsorg gehaal is nie en dat daar wel middels gevind is in die mengsel wat die polisie by Helm se huis gekonfiskeer het. Viljoen kon nie hieroor kommentaar lewer nie. Theron het in haar slotbetoog gesê “die blote teenwoordigheid” van die middels in die kinders se urine is van belang. “Die feit is, ‘n analis kry ‘n resultaat, en die resultaat kan nie deur dr. Viljoen betwyfel word nie,” het sy geargumenteer. “Die prentjie van ‘n perfekte dagmoeder (wat sy voorgehou het) is nie versoenbaar met iemand in wie se sorg kinders gevaarlike middels ingekry het nie.” Mnr. Keith Gess, Helm se prokureur, het geargumenteer die forensiese getuienis kan nie aanvaar word nie omdat daar vrae is oor die kalibrasie van die masjiene wat die analises gedoen het. Hy het voorts gewys op weersprekings in die getuienis van die polisiebeamptes wat in die saak getuig het, asook in die getuienis van me. Angeline Carolus, Helm se voormalige huishulp, wat vir die staat getuig het.

‘Baba is medikasie gegee by dagsorg’

Die Burger

Verslaggewer: Jan Gerber

Somerset-Wes – ‘n “Onsettend woedende” en “tenagekome” ma van ‘n babaseuntjie wat in 2007 bedags by me. Monica Helm (62) se Kinderland-dagsorgsentrum gebly het, het gister in die streekhof hier teen haar getuig. Helm word daarvan aangekla dat sy oor-die-toonbank- en skedulevyf-medikasie aan babas en kleuters gegee het sodat hulle kon slaap. Me. Antoinette Steyn het getuig haar seuntjie Matthew, toe skaars tien maande oud, het in 2007 teen die einde van Oktober of dalk vroeg November by Helm se dagsorgsentrum in Somerset-Wes gebly. Sy het opgemerk dat klein Matthew se slaappatrone versteur is en dat hy haar nie wou toelaat om hom te voer nie. Op die staatsaanklaer, me. Karien Theron, se vraag of sy ooit toestemming gegee het dat Helm vir Matthew medikasie mag gee, het Steyn bevestig sy het nie. “‘n Mens gee nie medikasie vir klein kindertjies nie,” het sy gesê. Theron het haar ook gevra of sy ooit vir Helm toestemming gegee het om ‘n mengsel van heuning, gemmer, melk en fyngemaakte Panado aan haar seuntjie te gee. Mnr. Keith Gess, Helm se prokureur, het gesê Helm het nooit die mengsel aan Matthew gegee nie, omdat sy dit nie aan babas gegee het nie, maar wel aan kleuters. Steyn het bevestig dat Helm nie die mengsel aan Matthew gegee het nie. Theron het Steyn gevra hoe sy oor die hele aangeleentheid voel. “Eerstens het ek gevoel ek faal my kind,” was haar antwoord, en het bygevoeg dat sy ook “ontsettende woede” en “tenagekom” gevoel het. “Daar is vir my gelieg.” Na die bewerings teen Helm bekend geword het, het Steyn haar kind na ‘n dokter geneem. Die urinemonsters wat van Matthew geneem is, het negatief getoets. Hy was toe reeds ‘n week lank nie meer in Helm se sorg nie. Steyn het gesê haar kind ondervind steeds probleme om te sluk. “Enige kind wat deur force feeding is, het daardie reaksie,” het sy ‘n mediese opinie hieroor aangehaal. Me. Dinah Mokhutshwane, ‘n forensiese ontleder van die Departement van Gesondheid, het getuig daar is in vier kinders se urinemonsters tekens van medikasie gevind. Streeklanddros Marilyn Cannon het die saak tot vandag uitgestel sodat Gess na ‘n konsultasie met ‘n kenner vir Mokhutshwane verder onder kruisverhoor kan neem.

Kleuter kry nagmerries en skree, hoor hof in dagmoedersaak

DIE BURGER

Verslaggewer: Jackie Pienaar-Brink

Somerset-Wes

‘n Ma het in die Streekhof hier getuig hoe haar dogter ‘n obsessie met medikasie ontwikkel het nadat sy in die Kinderland-dagsorgsentrum opgeneem is. Die betrokke dagmoeder, mev. Monica Helm (62) van Heldervue, Somerset-Wes, word daarvan verdink dat sy oor-die-toonbank- en skedulevyf-medisyne aan babas en kleuters gegee het sodat hulle kon slaap. Sy ontken sklud op agt aanklagte van aanranding met die opset om ernstig te beseer, die alternatief van mishandeling en ‘n aanklag dat Kinderland nie na behore geregistreer was nie. Mev. Martie le Roux het gister getuig haar kleuter het in die tyd dat sy in Kinderland was obsessief geraak oor medisyne. Sy het twee keer in kaste geklim om medikasie te neem. Twee keer is sy hospitaal toe gehas vir oordosering. Sy het ook in mense se handsakke gekrap om medisyne in die hande te kry. “Dit (die obsessie) is vandag weg.” Dieselfde kind het saans baie sleg geslaap. Het sy wel aan die slaap geraak, was sy binne vyftien minute weer wakker. “Sy het begin nagmerries kry en begin skree in die nag. Soms het sy gesê sy sien apies buite die kamer rondhardloop,” het Le Roux getuig. Haar kind was gedurig hardlywig, wou nie eet nie en he in ‘n stadium bosse hare verloor. Doeke was ook “altyd ‘n storie”, het Le Roux vervolg. Die doeke wat hulle verskaf het, was net nooit genoeg nie. Helm het gesê hulle kan goedkoop doeke deur haar kry. Hulle het ingestem, waarna haar man opgemerk het hy is seker hulle koop hul eie doeke terug. Sodra hulle doeke van ‘n nuwe handelsmerk daar aagebring het, was dit net ‘n tydjie voordat Helm met dieselfde handelsmerk gevolg het. Le Roux het hul doeke met ‘n swart pen gemerk en haar man was inderdaad reg, het sy gesê. Nadat Le Roux bande met Kinderland verbreek het, het haar dogter ‘n persoonlikheidsverandering ondergaan. Die hardlywigheid en eetversteuring was weg en met arbeidsterapie het sy ontwikkel van ‘n kind wat nie op ‘n klimraam kon klim nie na een wat bollemakiesie slaan. Nog ‘n ouer, mnr. Hendrik Claassens, het getuig sy twee seuns was in ‘n stadium as tydelike reëling net vir twee weke by Helm. Die een seun van vier en ‘n half het na sy eerste dag gesê “hy wil nie weer medisyne hê nie”. Streeklanddros Marilyn Cannon het die saak tot 14 Oktober uitgestel.

Dagmoeder ‘het mengsel in oond probeer gooi’

DIE BURGER

Verslaggewer: Jackie Pienaar-Brink

Somerset-Wes

‘n Dagmoeder het probeer om ‘n medisynemengsel wat kinders in haar sorg vermoedelik toegedien is oor kos in die oond te gooi toe die polisie toeslaan, het ‘n polisiebeampte gister getuig. Mev. Monica Helm (62) word daarvan verdink dat sy ‘n mengsel van oor-die-toonbank- en skedule-vyf-medisyne aan babas en kleuters in haar sorg gegee het sodat hulle kon slaap. Sy ontken skuld op agt aanklagte van aanranding met die opset om ernstig te beseer, die alternatief van mishandeling, en ‘n aanklag dat haar Kinderland-dagsorgsentrum in Heldervue, Somerset-Wes, nie na behore geregistreer was nie. Speurinsp. Abraham Arries van die polisie se eenheid teen gesinsgeweld, kindermishandeling en seksuele misdrywe in Khayelitsha het in die streekhof getuig hy was by toe ‘n polisieklopjag op 12 Desember 2007 uitgevoer is. Volgens hom het Helm, terwyl die hoofslaapkamer deurgesoek is, gesê sy moet kombuis toe gaan omdat haar kos brand. Daar het sy ‘n beker met vloeistof langs die mikrogolfoond geneem en dit oor ‘n gereg in die oond probeer gooi. Voordat sy gekeer is, het van die vloeistof wel daarop beland en ‘n skuim gemaak. Toe hy haar na die mengsel vra, het sy volgens hom gesê dit is ‘n mosterdsous, maar sy kon nie verklaar watter bestanddele daarin was nie. Vir hom het dit na “pille en medisyne” geruik. Daar was ook ‘n emmertjie met ‘n “klomp pilhouertjies en -boksies in”. Mnr. Jacques van Rensburg het getuig hoe geskok hy dieselfde oggend was toe die polisei hom bel en versoek om so gou moontlik sy dogter by Kinderland te gaan haal. Hy was van Kaapstad onderweg en moes weens die skok van die N2 aftrek. “My suster moes verder bestuur.” Sy dogter was baie slaperig en het gesukkel om wakker te word. Hy het nooit gevoel iets snaaks is by Kinderland aan die gang nie. Sy kind se slaappatroon was wel heeltemal deurmekaar en sy was baie buierig. Nadat sy uitgehaal is, het sy rustiger geword, snags baie beter geslaap, beter geëet en was sy minder aggressief. Die verdediging voer aan as die huishulp, me. Angeline Carolus, die kinders enige middels toegedien het, was dit sonder Helm se wete. Helm ontken ook dat as kinders nie die mengsel per lepel wou inneem nie sy dit in ‘n botteltjie met ‘n tuit aan hulle gegee het, soos getuig is. Die saak duur vandag voort voor streeklanddros Marilyn Cannon. Die aanklaer is me. Karien Theron. Mnr. Keith Gess verskyn vir Helm.

Huishulp beskuldig in dagmoeder-saak

Die Burger

Verslaggewer: Jackie Pienaar-Brink

Somerset Wes – Die verdediging het gister die vinger gewys na die huishulp van ‘n dagmoeder wat daarvan aangekla word dat sy kinders in haar sorg medisyne toegedien het sodat hulle kon slaap. Daar word aangevoer mev. Monica Helm (62) van die Kinderland- creche in Heldervue, Somerset-Wes, het ‘n kombinasie van oor-die-toonbank- en voorskrifmedisyne gegee aan kinders van tussen drie maande en drie jaar oud. Sy het in die plaaslikke streekhof onskuldig gepleit op agt aanklagte van aanranding met die opset om ernstig te beseer asook die alternatief van mishandeling en ‘n negende aanklag dat haar dagsorgsentrum nie behoorlik geregistreer was nie. Haar regsverteenwoordiger, mnr. Keith Gess, het dit aan haar huishulp, mev. Angeline Carolus, gestel dat as daar enige gevaarlikke stowwe in die vloeistof was wat die kinders toegedien is, dit deur Carolus daar geplaas is. Carolus, ‘n staatsgetuie, het dit heftig ontken. Sy het getuig sy het in Oktober 2004 as huishulp vir Helm begin werk. Eers toe sy die eerste dag inval, het sy besef dit is ‘n dagsorgsentrum en dat sy ook daar sou moes help. Die kinders het soggens pap gekry, die groter kinders almal hawermout, en daarna medikasie – volgens Carolus pille wat Helm uit haar kamer gebring, tussen twee lepels fyngemaak en daarna met kraanwater gemeng het. Haar opdrag aan Carous was dat elke kind tussen vyf en 15 eetlepels daarvan moes kry “sodat hulle kan slaap”. As kinders wakker geword en moeilik geraak het, moes sy dit weer gee, het sy getuig nadat streeklanddros Marilyn Cannon seker gemaak het sy bedoel soveel eetlepels per kind en op een slag. Helm het daarmee gehelp en dikwels aan ouers gesê hul kinders was huilerig en stout, terwyl hulle in werklikheid net geslaap het. Carolus het getuig sy het soms agteraf aan die ouers probeer beduie dit is leuens, maar wou nie openlik praat nie omdat sy bang was sy verloor haar werk. Nadat ‘n ma haar toevallig in ‘n supermark raakgeloop en gevra het wat fout is, het Carolus met die sak patats vorendag gekom en in die gehim monsters van die medikasie aan ‘n ma en die polisie verskaf. Gess het daarop gehamer dat Helm en Carolus se verhouding versuur het, onder meer weens beskuldigings van diefstal teen Carolus. Hy het aangevoer ‘n mengsel van gemmer, heuning, water en/of melk en Panado is met ouers se toestemming aan kinders gegee, net as hulle siek was. Carolus het dit ontken. Die saak duur vandag voort.